parliament sabc

Die Suid-Afrikaanse president geniet groot diskresie ten opsigte van hoe hy sy magte uitoefen. Dit sluit in die aanstelling van kabinetsministers. Dit suggereer nie dat daar geen perke aan sy mag is nie. Soos wat hofbeslissing ná hofbeslissing beklemtoon het, kan openbare magte slegs uitgeoefen word binne die grense van rasionaliteit. Soos wat die howe duidelik gestel het, beteken rasionaliteit nie dat ‘n besluit irrasioneel is net omdat dit ‘n ander manier van dinge doen is nie. Rasionaliteit beteken dat daar ‘n logiese verbintenis moet wees tussen die rede en die uitkoms van die besluit. Eenvoudig gestel, daar moet ‘n verbintenis tussen die middel en doel wees.

 

Dit is duidelik dat die President nie gedryf word deur doeltreffendheid en die beginsels van goeie bestuur met betrekking tot die portefeuljes van die Kabinet nie. Sy motiewe om te skommel is nie net twyfelagtig nie, maar gaan ook teen sy grondwetlike mandaat om goeie regeringsbeginsels te handhaaf.

Daar is geen rasionele grondslag vir die skommeling van Ministers soos Hlengiwe Mkhize en Ayanda Dlodlo skaars drie maande ná hul aanstellings nie. Ten beste kan die kabinetskommeling beskou word as dekstoele op ‘n sinkende skip, en in die ergste geval is dit ‘n swak verskuilde poging om ontslae te raak van politieke teenstanders wat die President kritiseer. Dit is belangrik dat daar stabiliteit in die uitvoerende gesag is sodat Suid-Afrika se beleide, veral die Nasionale Ontwikkelingsplan, moeiteloos in werking gestel kan word. Hierdie Kabinetskommeling is een van verskeie in 2017 alleen en, volgens mediaberigte, die 12de onder hierdie President. Dit is kommerwekkend dat dit ook die sewende Minister van Kommunikasie in agt jaar is. Dit voorspel niks goed vir Suid-Afrika se politieke stabiliteit op die lang termyn nie. Dit is belangrik dat die nasie se beste belange voor dié van party-politieke belange stel word.

Deur me Phephelaphi Dube: Direkteur, Sentrum vir Grondwetlike Regte
17 Oktober 2017

Foto: www.sabc.co.za