farm

Artikel 27(1) en (2) van die Grondwet waarborg elke burger die reg op voldoende voedsel, en dat die staat voldoende maatreëls moet instel om die verwesenliking van hierdie reg te verseker. Om te verseker dat hierdie grondwetlike noodsaaklikheid nagekom word, het die Kabinet in 2013 die Nasionale Beleid oor Voedsel en Voedselsekuriteit goedgekeur. Die Beleid het ten doel om voedselproduksie en -verspreiding te verbeter en om produksie deur kleinboere te bevorder, wat ook saam met “bestaansboerdery”, “gemeenskapsgebaseerde boerdery” of “landelike boerdery” gebruik word. Terwyl kleinboere oor beperkte bronne beskik, speel hulle 'n belangrike rol in die die skep van mense se lewensbestaan en om voedselproduksie onder die arm landelike bevolking te verseker. Die Beleid stel 'n raamwerk in die vooruitsig om die reg op voldoende voedsel te beskerm, maar voedselonsekerheid is egter steeds 'n faktor. 

In 2016 het die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye se Jaarverslag vir 2016 verklaar dat alhoewel die land voedselvereistes onder normale weersomstandighede kan nakom, is 14 miljoen Suid-Afrikaners kwesbaar wat hongerte betref, en nie oor voldoende toegang tot voedsel beskik nie. Daarbenewens toon Statistiek SA se Community Survey 2016 dat 2.2 miljoen huishoudings in die afgelope jaar 'n maaltyd oorgeslaan het, en 3.3 miljoen huishoudings sê dat hulle in die afgelope 12 maande nie genoeg geld oorgehad het om kos te koop nie.

Daarbenewens, gegewe Suid-Afrika se onlangse afgradering na ‘rommelstatus’, kan die land hoër voedselinflasie in die toekoms verwag, wat voedselsekuriteit verder sal bedreig. Volgens die Food Price Monitor wat deur die Nasionale Bemarkingsraad vir Landbou bekendgestel is, was inflasie vir 2017 11.4%, met suiker, soetgoed en brood wat onder die grootste bydraers was. 'n Toename in voedselpryse, saam met stygende olie- en energiepryse, kan die stand van Suid-Afrika se voedselsekuriteit verder vererger. 

Dit is belangrik om daarop te let dat voedselsekuriteit intrinsiek verbind word met historiese debatte oor grond in Suid-Afrika. Hierdie debatte moet verstaan word in die konteks van die Wet op Grond van 1913 en ruimtelike beplanning ingevolge apartheid, wat die grootste deel van nie-wit Suid-Afrikaners in woongebiede ver van ekonomiese geleenthede laat woon het. Alhoewel vordering gemaak is om die geografie van rassisme uit te roei, voer die Nasionale Ontwikkelingsplan vir 2030 aan dat gemeenskappe aan die uithoeke van die samelewing steeds in armoede vasgevang is. Dit geld veral vir gemeenskappe in landelike gebiede. Die Nasionale Ontwikkelingsplan beklemtoon 'n groot uitdaging vir die bevordering van landelike ontwikkeling, naamlik die oneweredige koers van marginalisering, ongelykheid en armoede wat arm mense in die gesig staar. Om landelike ontwikkeling te bevorder doen die NOP 'n beroep om “die ontwikkeling van landbou gebaseer op suksesvolle grondhervorming”, met kleinboerdery eerste. 

Voorts is dit belangrik vir landelike landbouontwikkeling om verblyfreg aan te spreek. Tans ontvang 'n plaaswerker nie eienaarskap van sy woning op 'n plaas waarop hy woon nie; gevolglik kan plaaswerkers op onregverdige wyse uitgesit word. Die Extension of Security of Tenure Act fasiliteer verblyfreg op die lang termyn, maar beskerm slegs bewoners wat deur die grondeienaar toestemming ontvang het om in 'n woning op daardie plaas te woon. Die NOP verklaar dat solank as wat “hierdie boere (veral vroulike boere) nie oor verblyfreg beskik nie, hulle nie in die grond sal belê nie en landbouproduksie nie sal groei nie”. Soos benadruk is, het die onsekerheid oor verblyfreg 'n uitwerking op landbouproduksie en kan die NOP se visie van “landelike gemeenskappe wat beter geleenthede het om ten volle aan die ekonomiese, maatskaplike en politieke lewe van die land” teen 2030 deel te neem, in die wiele ry. Voorts bevestig die NOP dat sekerheid van verblyfreg nodig is om landbou uit te brei en voedselproduksie te bevorder.

Volgens @Liberty - From land to farming: bringing land reform down to earth, 'n beleidsoorsig deur die Instituut vir Rasseverhoudings (IRV) besit “5% van kleinboere hul eie plase, die res word ingevolge haglike grondverblyfooreenkomste of op grond wat van die staat verhuur word (15%), of op gemeenskaplike grond (80%) geproduseer”. Voorts voer die IRV aan dat landelike armoede verder vererger, wat gelei het tot 'n toename in migrasie van landelike na stedelike gebiede. 'n Gebrek aan kleinboere, tesame met 'n hoë koers van stedelike migrasie, het gelei tot 'n beroep om alternatiewe metodes van landbouproduksie om voedselsekuriteit te verseker.

'n Suksesvolle alternatief is die Philippi Horticultural Area (PHA) in Kaapstad. Volgens die PHA se Voedsel en Boerdery-veldtog, is die PHA die laaste opvangsgebied vir die Akwifer op die Kaapse Vlakte, wat die hoofbron is van besproeiing vir boere in die gebied - en wat feitlik droogtebestand is.  Nazeer Sonday, boer en voorstander vir die PHA, beweer dat hierdie grond die gebied in die land is wat die mees produktief per hektaar is - met inbegrip van 200 000 ton groente wat jaarliks produseer word. Die PHA is geleë in 'n stedelike gebied, wat boere in staat stel om hul produkte aan handelaars en restaurante in die gebied te verkoop. Die PHA is in staat om die omliggende stedelike bevolking te onderhou en is 'n gebied waar kleinboerdery 'n volhoubare lewensbestaan is. Aansoeke om stedelike ontwikkeling is egter in ag geneem om die gebied te hersoneer. Plaveisel oor die PHA sal die akwifer verwoes. Sonday voer aan dat stedelike ontwikkeling nie net landbougrond sal bedreig nie, maar ook voedselsekuriteit. 

Die PHA-probleem is nie uniek tot ander uitdagings betreffende ontwikkeling in Suid-Afrika nie. Die Stad Kaapstad verkeer onder druk om bekostigbare behuising daar te stel; veral rondom die PHA-gebied. Die verband tussen bekostigbare behuising en landbouontwikkeling/voedselsekuriteit is 'n moeilike area om te navigeer. Aan die een kant lewe 14 miljoen Suid-Afrikaners sonder voldoende toegang tot kos, en aan die ander kant bly miljoene in arm lewensomstandighede, ver van ekonomiese geleenthede. Dit is 'n moeilike kwessie wat die residensiële probleme beklemtoon wat uit eeue van rasse-onderdrukking spruit. Dit beklemtoon ook die probleem wanneer maatskaplike kwessies in 'n vakuum probeer verstaan word. Voedselsekuriteit, toegang tot grond en ontwikkeling hou verband met mekaar. Wanneer ingrypings in werking gestel word, is dit belangrik om daarvan kennis te neem. Menseregte is onverdeelbaar, interafhanklik en hou met mekaar verband - dus moet maatreëls om die reg op voedsel te bevorder, dit weerspieël.

Deur me Kiah Murphy: Intern, Sentrum vir Grondwetlike Regte

grond & eiendom

FW de Klerk Stigting

Die Sentrum vir Grondwetlike Regte (SGR) is ’n eenheid van die FW de Klerk Stigting.

FW de Klerk Stigting

Top Bedreigings teen die Grondwet

Menseregteverslagkaart

Maak 'n skenking

Help ons om die Grondwet te handhaaf en te bevorder.

cfcr-donate

Kliek Hier