gavel small

Soos wat die geval is met strukturele interdikte - met lae van verslagdoening en toesighouding - is die onlangse bevel deur die Konstitusionele Hof in Black Sash Trust v Minister of Social Development and Others (Black Sash-saak) verreikend en omvattend. Gewoonlik sal sodanige interdik beskuldigings van inmenging en ‘n moontlike skending van die beginsel van die skeiding van magte ontlok - en nie om ongegronde redes nie - maar hierdie is nie gewone tye nie. 

Op dieselfde dag as wat die Konstitusionele Hof sy bevinding gemaak het in die Black Sash-saak, het die Hoë Hof in Pretoria die Minister van Polisie se aanstelling van generaal-majoor Ntlemeza as Nasionale Hoof van die Direktoraat vir Prioriteitsmisdaadondersoek ter syde gestel. Dit is ter syde gestel op grond daarvan dat die aanstelling, gegewe vorige negatiewe bevindinge deur howe teen generaal-majoor Ntlemeza, irrasioneel was.

Die Oos-Kaapse Hoë Hof in die Oos-Kaap, in Agri Eastern Cape and Others v MEC for the Department of Roads and Public Works and Others, het ook onlangs bevind dat boere wat beskadigde paaie as laaste uitweg moes herstel, na jare van verwaarlosing en beloftes deur die Staat wat nie nagekom is nie, die geld vir die koste wat aangegaan is, van die provinsiale regering kan verhaal. In ‘n versigtig bewoorde interdik, het die Oos-Kaapse Hoë Hof uiteengesit hoe die Oos-Kaapse regering onmiddellik planne in werking moet stel om die ernstig verwaarloosde landelike padnetwerk in die provinsie te herstel.

Die Noord-Gautengse Hoë Hof het in Februarie bevind dat die regering se onttrekking van die Internasionale Strafhof (ISH) ongrondwetlik en ongeldig was omdat die Parlement nie toestemming daarvoor gegee het nie. Terwyl die ICC Implementation of the Rome Statute of the International Criminal Court Act Repeal Bill sedertdien van die Parlement onttrek is, is dit egter steeds onduidelik oor of Suid-Afrika voornemens is om as lid van die ISH aan te bly. Wat wel duidelik is, is dat indien dit nie vir die howe was nie, Suid-Afrika lankal reeds met die proses sou begin om sy lidmaatskap van die ISH te staak.

Hierdie besluite, met verreikende gevolge vir die uitvoering van staatsmag, en wat waarskynlik die Regbank teen die Staat stel, is in die eerste drie maande van hierdie jaar geneem. Hierdie besluite moet oorweeg word in lig van die Konstitusionele Hof se woorde in die TAC-beslissing in 2002, wat die Regering gedwing het om antiretrovirale medisyne aan alle Suid-Afrikaners met MIV beskikbaar te stel:

“Courts are ill-suited to adjudicate upon issues where court orders would have multiple social and economic consequences for the community. The Constitution contemplates rather a restrained and focused role for the courts, namely to require the State to take measures to meet its constitutional obligations to subject the reasonableness of these measures to evaluation. Such determinations of reasonableness may in fact have budgetary implications but are not in themselves directed at rearranging budgets. In this way, the judicial, legislative and executive function achieve appropriate constitutional balance”.

Normaalweg wanneer die howe bevindings maak wat die Oppergesag van die Reg bevestig, is dit goed vir die land. Normaalweg wanneer die howe wette of optrede deur die Staat wat nie die Grondwet nakom nie, ter syde stel, moet dit gevier word as een van die tekens van ‘n volwasse grondwetlike demokrasie.

Maar dit is nog nie die tyd om fees te vier nie.

Oorweeg die konteks waarin die bogenoemde besluite gemaak is. Net verlede week het nuusberigte daarop gedui dat die regerende party voornemens is om die kriteria wat deur die Regterlike Dienskommissie gebruik word om regters aan te stel, te herevalueer. Die regerende party is na bewering op soek na regters op die regbank aan te stel wat ‘n progressiewe filosofie het en wat regterlike aktivisme bevorder om uitvoering te gee aan maatskaplike transformasie. Daarbenewens kritiseer beleidsdokumente wat bekendgestel is na dieselfde regerende party se Nasionale Beleidskonferensie vir 2017 wat onlangs plaasgevind het, naamlik die Strategy and Tactics-dokumente, “oorlog wat in die howe gevoer word” wat eerder in die politieke en beleidsfeer opgelos kon word. Dieselfde dokumente beskryf hierdie oorlog as “onsmaaklike ontwikkelings” wat pogings “van sommige bevoorregte sektore van die samelewing weerspieël om die populêre verkiesingsmandaat te ondermyn. Dit het tot die gevolg dat die regbank ingestrek word in die maalstroom van die dag-tot-dag bestuur van die samelewing en dit dus onnodig met modder besmeer word”. 

Na watter modder verwys die regerende party? Enige redelike interpretasie van die verklarings dui op ‘n swak verskuilde dreigement aan die howe oor die moontlike gevolge indien negatiewe bevindings teen die Staat of magtige politieke figure gemaak word. Die ironie is egter die feit dat indien die Staat volgens die Grondwet opgetree het, dit nie nodig sou wees vir die howe om sodanige geskille op te los nie.

In elke geval is dit gevestigde reg dat die howe ‘n hoë drumpel stel vir die hersiening van besluite wat deur die Staat geneem word. Dit beteken dat die howe nie eenvoudig besluite deur die Staat kan hersien op grond daarvan dat die hof tot ‘n ander besluit sou kom nie. Daar moet ‘n mate van wederregtelikheid, irrasionaliteit of onprosedurele optrede deur die Staat wees, wat die besluit geraak het. Dit vorm die toelaatbare grondslag vir die howe om by die besluite van die Staat in te meng. Die Grondwet maak dit voorts verpligtend dat wette of optrede wat nie aan die Grondwet voldoen nie, deur die hof ongeldig verklaar moet word. Dit is slegs in uitsonderlike gevalle - wat maar dun gesaai is - dat die howe hulle sal uitlaat oor die grondwetlikheid van beleide. Gevolglik beteken dit dat die nasie se beleide, as ‘n algemene reël, deur die tegnokrate en burokrate in werking gestel word op die uitsluitlike prerogatief van die regerende party, met baie min inmenging deur enige ander sfeer van die regering. Dit is dus oneerlik vir die regering om te suggereer, soos wat die geval in die beleidsdokumente is, dat die Regbank andersins by die bestuur van die samelewing betrokke is.

Dit blyk of dit die Regbank in die kruisvuur plaas met sekere politici, wat die Regbank en die howe kwesbaar laat vir politieke inmenging. Die howe is immers, soos wat die geval was vir 17 miljoen ontvangers van maatskaplike toelae - is die laaste punt van verdediging wanneer alle ander moontlikhede versuim het om aan grondwetlike waarborge te voldoen. Dit is deels wat die regmatigheid van die howe in die oë van gewone Suid-Afrikaners verseker. Te dikwels word Suid-Afrika se hoër howe gedwing om die foute van die Staat reg te stel. Gegewe ‘n regerende party met ‘n dun vel wat kiesers bloei, kan dit ironies genoeg die doodsklok lui vir die huidige vurige en fel onafhanklike Regbank?

Deur me Phephelaphi Dube: Direkteur, Sentrum vir Grondwetlike Regte 

Nota: Nadat hierdie artikel geskryf is, het die nuus gebreek dat daar by die kantore van die Hoofregter ingebreek is en 15 rekenaars gesteel is. Hierdie rekenaars het sensitiewe inligting bevat oor al die regters in die land, asook oor amptenare van die Konstitusionele Hof. Dit is nog te vroeg om te sê of dit net “bloot” nog 'n diefstal was, en of dit ‘n politieke motivering gehad het. Desnieteenstaande bevestig die diefstal die punt dat die Regbank kwesbaar is.

grond & eiendom

FW de Klerk Stigting

Die Sentrum vir Grondwetlike Regte (SGR) is ’n eenheid van die FW de Klerk Stigting.

FW de Klerk Stigting

Top Bedreigings teen die Grondwet

Menseregteverslagkaart

Maak 'n skenking

Help ons om die Grondwet te handhaaf en te bevorder.

cfcr-donate

Kliek Hier