Chaeli Argus opt

Op Sondag, 12 Maart 2017, sou 35 000 fietsryers deelgeneem het aan die Cape Town Cycle Tour - een van Suid-Afrika se mees ikoniese sportgeleenthede. Ten spyte daarvan dat die geleentheid gekanselleer is, moet die organiseerders geloof word vir hul benadering om mense met gestremdhede in te sluit. Hierdie geleentheid is ‘n bloudruk vir inklusiwiteit en gee uitvoering aan die reg op gelykheid, soos in artikel 9 van die Grondwet verskans is.

Agtien handfietsryers en ongeveer 15 mense met gestremdhede in ‘buggies’ (wat deur ‘n fietsryer en ‘n ondersteuningsfietsryer getrek word en dus 39 mense in die buggy-spanne insluit) sou aan die geleentheid deelgeneem het. ‘n Inklusiewe fasiliterende proses met hierdie spesifieke fietsryers het verseker dat alle veiligheids-, gesondheids- en logistieke bekommernisse getakel word. Een innoverende aanpassing het ingesluit die voorsiening van ‘n opsporingstoestel aan die ‘buggy-spanne’, wat geaktiveer kan word in ‘n noodgeval. Die vraag is nou of dieselfde inklusiewe benadering deur ander groot en selfs kleiner sportgeleentheidsorganiseerders in die land gevolg kan word?

Die behaling van gelykheid is ‘n grondliggende waarde van die Grondwet, en artikel 9 van die Grondwet verklaar dat geen persoon of die Staat op onregverdige wyse direk of indirek teen ‘n persoon mag diskrimineer op grond van gestremdheid nie. Om uitvoering te gee aan artikel 9 van die Grondwet is die Wet op die Bevordering van Gelykheid en die Voorkoming van Onregverdige Diskriminasie van 2000 (die Wet op Gelykheid) ingestel. Artikel 9(c) van die Wet op Gelykheid verklaar spesifiek dat geen persoon op onregverdige wyse teen enige persoon mag diskrimineer op grond van gestremdheid nie, met inbegrip van die versuim om struikelblokke uit die weg te ruim wat persone met gestremdhede op onregverdige wyse beperk of verhoed om gelyke geleenthede te geniet of versuim om stappe te doen om die behoeftes van sodanige persone op redelike wyse te akkomodeer. 

‘n Sportgeleentheidsorganiseerder kan dus nie net sit en wag tot ‘n atleet of fietsryer met ‘n gestremdheid ‘n versoek rig om aan ‘n geleentheid deel te neem nie, maar redelike stappe moet vooraf gedoen word om inklusiwiteit te verseker. Die vraag is egter wat redelik is en watter redelike stappe doen om deelname te verseker, terwyl die aard van die geleentheid nie verander word nie.

Kragtens die National Sport and Recreation Plan van 2012 (NSRP), is een van die strategiese doelwitte om te verseker dat gelyke geleenthede bestaan vir alle Suid-Afrikaners om aan sport deel te neem. ‘n Ingewikkelde kwessie soos dit vereis ‘n begrip van die presiese struikelblokke wat byvoorbeeld deelname deur persone met gestremdhede verhoed, maar ook ‘n begrip dat persone met gestremdhede nie ‘n homogene groep uitmaak nie. Die Wet op Gelykheid definieer nie die term ‘gestremdheid’ nie en Suid-Afrika se Witskrif oor die Regte van Persone met Gestremdhede (die Witskrif) verklaar dat ‘gestremdheid’ deur die samelewing afgedwing word wanneer ‘n persoon met 'n fisiese, psigososiale, intellektuele, neurologiese en/of sensoriese gestremdheid nie die geleentheid gegun word om ten volle deel te neem aan alle aspekte van die lewe. Om struikelblokke vir deelname te verwyder sal ‘n een-grootte-pas-almal benadering nie die antwoord wees nie.

Die struikelblokke vir sportgeleentheidsorganiseerders in Suid-Afrika sluit nie net die gebrek aan riglyne in nie - veiligheids- en sekuriteitsmaatreëls word ook dikwels as struikelblokke geopper. Kragtens die Safety at Sports and Recreational Events Act van 2010 (SASREA), moet die veiligheids- en sekuriteitsmaatreëls wat deur die geleentheidsorganiseerder aangepak word deur die Nasionale Kommissaris goedgekeur word en afhangende van die kategorisering van die geleentheid, kan ‘n komitee oor geleentheidsveiligheid en -sekuriteit vir die geleentheid aangewys word. Ongelukkig word geleentheidsorganiseerders nie verplig om met mense met gestremdhede oorleg te pleeg om realisties te bepaal hoe kommer oor veiligheid redelik aangepak kan word indien hulle aan die vermelde geleentheid wil deelneem.

Die Verenigde Koninkryk het ‘n progressiewe sprong geneem om inklusiwiteit in sport te verseker deur die Equality Standard: A Framework for Sport in 2004 (die Gelykheidstandaard) te publiseer. Die Gelykheidstandaard bied leiding aan sportorganisasies en sportbeheerliggame om inisiatiewe te ontwikkel om deelname aan sport aan te moedig deur mense wat ‘n ‘gedeelde karaktereienskap’ deel. England Athletic, die beheerliggaam vir atletiek in Engeland, het byvoorbeeld Disability Guidance for Track and Field Competition Providers in 2015 gepubliseer, wat algemene voorbeelde van fisiese struikelblokke vir deelname deur atlete met gestremdhede en moontlike oplossings bied - sonder om die aard van die geleentheid te verander.

‘n Inklusiewe sportstelsel - en die versekering dat alle mense aan sportgeleenthede kan deelneem - sal nie oornag in Suid-Afrika gebeur nie. Om inklusiwiteit te behaal vereis egter nie noodwendig uiterste maatreëls nie, maar dit vereis wel ‘n begrip van alle fasette van die situasie, wat slegs realisties behaal kan word as alle belangstellende partye ‘n fasiliterende benadering navolg. Gelykheid is steeds ‘n grondliggende waarde van die nasie en die behaling van substantiewe gelykheid beteken dat struikelblokke wat andersins sou verhoed dat Suid-Afrika hul volle potensiaal bereik, uit die weg geruim word. 

*Spesiale dank aan die Mediakantoor van die Cape Town Cycle Tour en die Chaeli Campaign, wat ons van inligting voorsien het oor die deelname van persone met gestremdhede aan die geleentheid.

Deur me Christine Botha: Regsbeampte, Sentrum vir Grondwetlike Regte

grond & eiendom

FW de Klerk Stigting

Die Sentrum vir Grondwetlike Regte (SGR) is ’n eenheid van die FW de Klerk Stigting.

FW de Klerk Stigting

Top Bedreigings teen die Grondwet

Menseregteverslagkaart

Maak 'n skenking

Help ons om die Grondwet te handhaaf en te bevorder.

cfcr-donate

Kliek Hier