SABC LogoVolgens die Hoof Uitvoerende Beampte van die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie (SAUK), het die Uitsaaier die Hoë Hof genader om die bevindings van die voormalige Openbare Beskermer se verslag - When Governance and Ethics Fail - te betwis. Daardie verslag het bevind dat die voormalige Hoof Bedryfsbeampte, Hlaudi Motsoeneng, skuldig is aan wangedrag en dat hy sy pos by die SAUK op bedrieglike wyse bekom het. Die aansoek om hersiening - op grond van administratiewe geregtigheid - kom 'n hele drie jaar na die verslag uitgereik is en die regstellende stappe daarvolgens deur die Kantoor van die Openbare Beskermer gepubliseer is.

Die Kantoor van die Openbare Beskermer is deur die Grondwet daargestel en die mag wat dit uitoefen word as administratiewe optrede beskou, volgens artikel 1 van die Wet op die Bevordering van Administratiewe Geregtigheid (PAJA). Artikel 6 van PAJA bepaal dat enige iemand die howe mag nader om geregtelike hersiening vir 'n wye reeks redes, met inbegrip van gebrek aan gesag, vooroordeel en die feit dat die betrokke besluit ongrondwetlik of onwettig is. Artikel 7 van dieselfde wet bepaal watter verrigtinge ingestel moet word vir geregtelike hersiening. Die eerste vereiste is dat verrigtinge sonder 'n onredelike vertraging ingestel moet word, en nie later as 180 dae nadat die administratiewe optrede ingestel is nie. PAJA maak voorsiening vir die variasie (kondonering van die vertraging) van die tydklousules van 'n hof in die belang van geregtigheid.

Die feit dat die aansoek om hersiening ingedien is na so 'n lang tyd, maak dit onwaarskynlik dat kondonering toegestaan sal word. Daar is onvoldoende openbare belang wat sodanige kondonering regverdig. Indien enige iets, wanneer 'n mens die toedrag van sake by die Uitsaaier oorweeg, leun openbare belang na Motsoeneng se permanente skeiding van die SAUK.

Desnieteenstaande, indien die Hof kondonering toestaan en die saak deur die SAUK aanhoor, ondersteun die feite nie die saak nie. In Desember 2016 het die Wes-Kaapse Hoë Hof Motsoeneng se aanstelling as Groephoof vir Korporatiewe Aangeleenthede ter syde gestel en aangevoer dat hy nie deur die Uitsaaier in diens geneem kan word nie. Dieselfde Hof het in Februarie 2017 'n aansoek deur die SAUK om teen die beslissing in Desember 2016 te appelleer, van die hand gewys, weens die onwaarskynlikheid van sukses. Voorts het die ondersoek na die geskiktheid van die nou ontbinde Raad van die SAUK 'n striemende verslag uitgereik oor die Uitsaaier se werksaamhede. Motsoeneng en die Minister van Kommunikasie, Faith Muthambi, word beskryf as groot bydraers tot die gemors waarin die SAUK homself bevind. Die Komitee het aanbeveel dat haar optrede by die SAUK deur die Etiekkomitee ondersoek word.

Hierdie aansoek om hersiening is in wese 'n poging om Motsoeneng weer aan te stel. Deur te bevind dat Moetsoeneng se aanstelling as Groephoof van Korporatiewe Aangeleenthede onwettig was, het die Wes-Kaapse Hoë Hof bevind dat hy nie aangestel moet word nie - hangende die bevindings van 'n nuwe dissiplinêre ondersoek of 'n hersiening deur die hof van dele van die Openbare Beskermer se verslag van 2014. Die SAUK is besig met 'n deurlopende poging om een man se lewensbestaan te beskerm, ten koste van die belastingbetaler en die geloofwaardigheid van die SAUK. Dit volg op die benoeming van lede van 'n tussentydse raad om die Uitsaaier se finansiële en bestuursprobleme op te los, wat op een of ander manier aan Motsoeneng verbind kan word.

Hierdie poging om 'n verslag te hersien wat grootliks deur die SAUK ignoreer is, is 'n vermorsing van belastingbetalers se geld en kan slegs as onnodige litigasie beskryf word. Dit is nie die SAUK se eerste poging om Motsoeneng te verdedig nie. Miskien moet 'n voorwaarde ingestel word dat indien enige koste wat voortspruit uit litigasie namens individue deur staatsinstellings, deur die vermelde persoon gedra moet word, as afskrikmiddel om nie hofprosesse te misbruik nie.

Enige pogings om onbevoegde en onverantwoordelike leiers in staatsinstellings te behou, kan nie verskoon word in 'n samelewing wat deur die Heerskappy van die Reg en grondwetlike oppergesag regeer word nie. Die SAUK het moontlik die terrein geword vir die regerende party se klaarblyklike faksies, met onbelemmerde toegang tot die SAUK as oorlogsbuit.

Deur Rebecca Sibanda: Regsassistent, Sentrum vir Grondwetlike Regte

grond & eiendom

FW de Klerk Stigting

Die Sentrum vir Grondwetlike Regte (SGR) is ’n eenheid van die FW de Klerk Stigting.

FW de Klerk Stigting

Top Bedreigings teen die Grondwet

Menseregteverslagkaart

Maak 'n skenking

Help ons om die Grondwet te handhaaf en te bevorder.

cfcr-donate

Kliek Hier