confidential opt

In 'n land waar vryheid van uitdrukking, met inbegrip van vryheid van die media en ander media, goed beskerm en geniet word - ten minste op papier - kan daar ooit dwingende openbare belang wees vir joernaliste om hul bronne bekend te maak?

Suid-Afrika is onlangs aangegryp deur openbarings wat voortspruit uit die Kommissie van Ondersoek na Belastingadministrasie en -bestuur by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) onder leiding van afgetrede regter Nugent. Onder die onthullings was dat die ‘rogue unit’ in die SAID, waaroor wyd berig gelewer is, in der waarheid  die Hoë Risiko-ondersoekeenheid was, wat wettiglik saamgestel is, met uitgebreide soek- en beslagleggingsmagte. Sodanige magte het die evaluering van belasting en die verhaling van onwettige tabak, dwelms en vervalste klere ter waarde van meer as R4 miljard in sy bestaan tot gevolg gehad. Ten spyte hiervan het die Sunday Times-koerant 'n reeks artikels publiseer waarin senior SAID-amptenare betrek is by die daarstelling van 'n "rogue"-ondersoekeenheid wat na bewering op voormalige President Zuma spioeneer het en 'n bordeel begin het wat ten doel sou gehad het om die regerende party te infiltreer. Die koerant het sedertdien die storie teruggetrek en apologie aangeteken.

Dit is voldoende om te sê dat onmeetbare skade aangerig is met betrekking tot die publiek se vertroue in die media as 'n belangrike vennoot om magtige figure aanspreeklik te hou en om deursigtigheid te verseker as belangrike waarde van ons grondwetlike demokrasie. Dit is ook duidelik dat die joernaliste die Sunday Times valse inligtigting ontvang het, wat die koerant toe gepubliseer het, sonder om seker te maak van die geldigheid van die inligting. Sunday Times het toe 'n maatstaf geword om die menings van die Suid-Afrikaanse publiek te beïnvloed betreffende die narratief van gebeure wat in die SAID ontvou het. Dit is op grond hiervan dat sommige 'n beroep gedoen het op die individue wat vir die publikasie van die ‘rogue-unit-narratief’ verantwoordelik was om voor die Nugent-kommissie te verskyn. Sodoende, is aangevoer, sou die name van die individue in die SAID, wat vir die narratief oor die 'rogue unit' verantwoordelik was, bekendgemaak word, asook hul motiewe, wat nou ontbloot is. 

Dit sal noodwendig beteken dat joernaliste hul bronne onthul. Maar is dit wenslik?

Joernaliste, in teenstelling met die regs- of mediese professie, is nie gebonde aan 'n wettige verpligting om inligtingsbronne te beskerm nie. Daar is egter 'n algemene konsensus dat bronne aan wie 'n vertroulike onderneming gegee word, beskerm moet word teen die openbaarmaking van hul identiteit. Dit dui daarop dat ten minste die regte naam van die bron van die publiek weggehou sal word. Die Suid-Afrikaanse Perskode bepaal dat die media vertroulike inligtingsbronne sal beskerm. Die Kode bepaal voorts dat die media nie inligting sal publiseer wat op 'n skending van vertroue neerkom nie, tensy die openbare belang anders bepaal. Dit moet dus redeneer dat daar uitsonderings op die algemene reël is dat bronne wat dit begeer, vertroulik gehou word. Wanneer bronne gelieg het, soos by die Sunday Times, is joernaliste nie meer verplig om te voldoen aan die verbintenis tot geheimhouding nie en kan hulle dus hul bron onthul. In elk geval is die verhouding tussen die joernalis en die bron van die inligting 'n kontraktuele een, gebaseer op die verstandhouding dat die inligting waar is. Sodra die inligting onwaar is, is dit die rede dat die kontrak nie meer geld nie en die joernalis is dan nie meer verplig om die bron van die inligting geheim te hou nie. Dit is dus in die openbare belang dat die identiteite van die bronne bekend gemaak word.

Dit is steeds belangrik om te beklemtoon dat die beskerming van bronne steeds die standaard posisie moet wees. Dit is waar dat indien informante nie joernaliste met vertroulikheid kan vertrou nie, hulle nie meer geneë sal wees om inligting te deel nie, wat sal beteken dat minder inligting aan die publiek bekend sal wees. Daarbenewens hou dit gevolge in vir die welstand van die land se demokrasie. Dit is 'n fyn lyn wat joernaliste moet volg wanneer hulle besluit of hulle bronne moet bekend maak. Dit bly die joernaliste se plig om inligting van bronne te bevestig en na te gaan, sonder om die identiteit van die bronne bekend te maak. Joernaliste het voorts 'n plig om deur enige moontlike agendas van bronne te gaan. Dit alles moet gebeur met die verstandhouding dat omdat mediavryheid in die Grondwet verskans is, demokrasie aan hulle, volgens Guy Berger, 'n spesiale status, voorreg en verantwoordelikheid toeken betreffende die vertroulikheid van bronne.

'n Oorsig van Suid-Afrikaanse besluite betreffende die vertroulikheid van bronne wys op die teenstrydige benaderings, met tye, van die howe, wat blyk om die vele mededingende belange te balanseer. Terwyl dit nie noodwendig mediavryheid en die vertroulikheid van bronne stel bo dit wat aan gewone burgers toegeken is nie, het die howe verklaar dat joernaliste kan weier om te getuig in sake waarin hul bronne onthul sal word. Dit is weer eens duidelik dat dit nie ten doel het om bronne te beskerm wat valse inligting verstrek het nie.

Die Nugent-kommissie het tot dusver inligting aan die publiek onthul oor die mislukkings wat administrasie en bestuur by die SAID betref, wat nie wel bekend was nie. Daar was baie faktore agter hierdie mislukkings, met inbegrip van individue, die privaat sector, asook die media, wat gebruik is om 'n beeld van legitimiteit te skep vir die onwettige aktiwiteite wat onder Tom Moyane se bestuur plaasgevind het. Dit is miskien tyd dat die Sunday Times die bronne wat die inligting oor die 'rogue unit' aan die koerant verstrek het, bekend maak. Dit is wat die openbare belang eis.

Deur Phephelaphi Dube: Direkteur, Sentrum vir Grondwetlike Regte
30 Oktober 2018