16Days 2018 opt

Dis weer daardie tyd van die jaar, waar die fokus geplaas word op die ernstige epidemie van geslagsgebaseerde geweld en sy hoofteikens, vroue en meisies. Die 16 Dae van Aktivisme-veldtog is strategies geposisioneer om op 25 November te begin, die Internasionale Dag vir die Uitwissing van Geweld teen Vroue, en eindig op 10 Desember - Internasionale Menseregtedag. Hierdie jaar se tema is #HearMeToo en het sy oorsprong in die vele bewegings wat oor die afgelope jare tot stand gekom het in reaksie op seksuele tesitering. Vroue het begin praat oor hul ervaringe en het ander vroue, wat ook slagoffers was, die moed gegee om daaroor te praat. Die getalle het sommiges geskik, maar in werklikheid is dit 'n ware uitbeelding van die samelewing waarin ons leef. Volgens die Verenigde Nasies ervaar een in drie vroue geslagsgebaseerde geweld. 

Baie van die aandag sal gefokus word op die mees fisies gewelddadige soorte van mishandeling wat deur hierdie kwesbare groep ervaar word. Baie van die geweld manifesteer inderdaad fisies, maar wat hierdie jaar se tema ten doel het is om die veelvlakkige aard van geslagsgebaseerde geweld en verreikende gevolge daarvan te beklemtoon. Baie van die eerste gesigte van die #MeToo- en #TimesUp-bewegings is bekende gesigte, mense oor wie mens maklik sou kon aanneem dat geld en roem hulle sou beskerm. Daardie aanname is verkeerd. Geslagsgebaseerde geweld is interseksioneel en diskrimineer nie. Dit gee nie om oor jou ras, ouderdom, ligging, sosiale klas of beroep nie.

Dit is bewys deur die vloed van bewerings (wat later bevestig is) van seksuele teistering in verskeie burgerregte-organisasies regoor die wêreld, met inbegrip van Suid-Afrika. Werknemers van hierdie organisasies het gepraat, en in sommige gevalle geslagsgebaseerde geweld teen vroue van meer as 10 jaar in daardie werkplekke onthul. Die geweld strek van ongevraagde verbale seksuele toenaderings, tot bedreigings vir hul welstand indien hulle nie seksuele gunsies vir mans met mag gedoen het nie. In een geval was 'n vrou die hoofmisbruiker, en het 'n werknemer met werkloosheid gedreig omdat die persoon nie die ongewenste toenaderings van 'n magtige staatsamptenaar geduld het nie. Die misbruik is vererger deur die kultuur om die misbruikers te beskerm, veral dié in magsposisies, deur hul eweknieë en ander. Dit, tesame met 'n kultuur van intimidasie, het die vroue verhinder om uit te praat.

Die onthullings het die burgerlike samelewing geskok. Mense skryf dikwels hoë morele waardes aan hulle toe danksy die goeie, noodsaaklike en belangrike werk wat hierdie organisasies doen. Hierdie onthullings deur die immer wakende media lei daartoe dat die publiek dit bevraagteken of die burgerlike samelewing sy posisie in hul gemeenskappe verloor het. Organisasies in openbare belang is vir baie die laaste plek waar geweld - in enige vorm - sal plaasvind. 

In die meeste gevalle was die organisasies redelik vinnig om die bewerings aan te spreek. Daar was 'n kollektiewe afkeuring en interne ondersoeke is onderneem. Die beweerde oortreders is geskors en/of uit hul poste ontslaan. Die bewerings is in die publiek aangepak met relatiewe openheid en deursigtigheid. Daar was ook 'n gevoel van dringendheid wat met die navrae gepaardgegaan het. Beide die media en die organisasies was sensitief met die hantering van die brawe vroue wat daaroor gepraat het. Hoewel dit alles prysenswaardig is, is dit kommerwekkend dat hierdie ruimtes toegelaat het dat sondanige leed aangerig is.

Die rede waarom die mishandeling steeds in staat is om te plaas te vind en so lank weggesteek kon word, is die straffeloosheid betreffende die oortreders se optrede. Dit word herbevestig deur 'n kultuur van stilswye wanneer dit kom by seksuele teistering, die vrees om jou lewensbestaan te verloor, asook die stigma wat daarmee verbind word. Die samelewing was vir veels te lank passief wat die aanvaarding van problematiese optrede betref. Die #MeToo-beweging - en al die veldtogte wat daarna gevolg het - het vroue in staat gestel om nie meer alleen te staan wanneer hulle daaroor praat nie. 

Suid-Afrika is 'n grondwetlike demokrasie, beheer deur 'n lewende dokument - ons Grondwet - wat daarop gemik is om almal wat in die land woon, te beskerm. Seksuele teistering is 'n direkte bedreiging vir die inherente menswaardigheid van alle vroue en meisies wat in hul onderskeie ruimtes aan hierdie gedrag blootgestel word. Die vryheid en veiligheid van die persoon beskerm jou liggaamlike integriteit en die reg om vry van geweld te wees. In 'n ewig ontwikkelende samelewing is dit belangrik om weer te kyk na hoe die regte en vryhede wat in die Grondwet vervat is, verstaan word. Dit is nodig om seksuele teistering te omskryf as 'n soort geweld wat vinnige en deurlopende optrede verdien. Dit is ook nodig om die stemme van diegene wat geïgnoreer en stilgemaak word, te versterk, om die gees van nie-diskriminasie en gelykheid te bevorder. Dit is inderdaad die kern van hierdie jaar se tema. Wanneer die ruimtes - wat een keer as veilig vir almal beskou is - blootgestel word, kan selfvoldaanheid nie meer aanvaar word nie. Vanjaar se gebeure is bewys van die deurdringende aard van seksuele teistering. #HearMeToo is 'n uitnodiging om te praat en gehoor te word, as 'n slagoffer van geslagsgebaseerde geweld, sonder vrees vir vergelding.

Me Rebecca Sibanda: Regsbeampte, Sentrum vir Grondwetlike Regte
24 November 2018