TEXTBOOKS

Ná die Pretoria Hooggeregshof se uitspraak in die Hoërskool Overvaal-saak (Overvaal) in Januarie 2018 en die gewelddadige betogings wat daarna gevolg het, is daar verstaanbaar min vertroue tussen die beheerliggame van openbare skole in Gauteng en die Gauteng Onderwysdepartement. Die Pretoria Hooggeregshof het bevind dat die Gauteng Onderwysdepartement op ‘n arbitrêre wyse Overvaal, ‘n enkelmedium Afrikaanse skool, gedwing het om 55 Engelse leerders in te skryf. Dis gedoen sonder om vooraf Overvaal se Engelse buurskole se beskikbare kapasiteit, soos hulle statutêr verplig was om te doen, in ag te neem. Die Konstitusionele Hof het om dieselfde rede die Gauteng Onderwysdepartement se verlof tot appèl teen die Pretoria Hooggeregshof se uitspraak in die Overvaal saak met koste van die hand gewys.

Beheerliggame se wantroue het onlangs weer opgevlam met die publisering van voorgestelde wysigings aan die toelatingsregulasies tot openbare skole in Gauteng.  Die voorgestelde wysigingsregulasies gaan, onder andere, oor drie belangrike wysigings. Die eerste wysiging hou verband met die toelatingsbeleid van ‘n openbare skool deur die beheerliggaam, die tweede wysiging behels die bepaling van skole se voedingsones deur die Hoof van die Gauteng Onderwysdepartement (HOD) en die laaste wysiging gaan oor die bepaling van ‘n skool se kapasiteit deur die HOD.

Die voorgestelde wysigingsregulasies moet gesien word teen die agtergrond van die bestaande samewerkingsmodel in die Suid Afrikaanse skoolsisteem, soos statutêr uiteengesit in die Suid Afrikaanse Skolewet van 1996. Die samewerkingsmodel se doel is om die grondwetlike reg tot basiese onderwys deur samewerking te verwesenlik. Die doel is net moontlik as al drie vlakke (nasionaal, provinsiaal en die skool beheerliggame) hul onderskeie funksies uitoefen en daar ooreenstemming is in die toepassing van bepalende kriteria.

Op nasionale vlak moet die Minister van Basiese Onderwys ingevolge die Skolewet eenvormige norme en standaarde vir alle openbare skole daarstel. Dié uniforme norme en standaarde verskaf op sy beurt leiding aan provinsiale onderwysdepartemente in die uitvoering van hul funksies en is sodoende ‘n maatstaf waarteen hierdie departemente gemeet kan word. Dit bied ook leiding aan beheerliggame oor verpligtinge van skole en die toepassing van standaarde. 

Op provinsiale vlak moet die provinsiale onderwysdepartement in samewerking met die HOD skole oprig en seker maak dat elke leerder in die provinsie by ‘n skool geplaas word. Die laaste vlak is skole se beheerliggame, wat uit ouers en gemeenskapslede bestaan. Skool beheerliggame is persoonlik betrokke by ‘n spesifieke skool en is daarom verantwoordelik vir die bestuur van ‘n skool, insluitend die bepaling van ‘n skool se toelatings- en taalbeleid. Dit is juis met inskrywingsgeskille dat baie regsdispute ontstaan het. Die Konstitusionele Hof het egter al bevestig (in die MEC for Education in Gauteng Province and Others v Governing Body of Rivonia Primary School and Others saak) dat die HOD nie streng gebonde is aan ‘n skool se toelatingsbeleid in so geskil nie en wel ‘n leerder kan toelaat tot die skool. Maar die crux is dat die HOD ‘n redelike en billike proses moet volg. Op dieselfde trant moet die beheerliggame in ag neem dat skole nie in ‘n vakuum funksioneer nie.

Die voorgestelde wysigingsregulasies gooi die konstitusionele samewerkingsmodel omver, omdat daar regsonsekerheid ontstaan, wat kan lei tot arbitrêre besluite. Dit word veral gesien met die voorstel dat elke openbare skool se toelatingsbeleid, soos opgestel deur die beheerliggaam, eers deur die HOD goedgekeur moet word. Tans moet die HOD sertifiseer dat ‘n skool se toelatingsbeleid wel aan die Skolewet, die Gauteng Skole Onderwyswet van 1995 en die toelatingsregulasies voldoen. Bowendien is daar ook die Nasionale Toelatinsgbeleid vir Gewone Publieke Skole, opgestel deur die Minister, waaraan elke skool se toelatingsbeleid moet voldoen. Die wysiging stel nou voor dat die HOD tevrede moet wees dat die toelatingsbeleid aan sekere addisionele vereistes voldoen. Dit sluit onder andere die inagneming van die “behoeftes van die breër gemeenskap waarin die skool geleë is” in, asook dat dit nie ‘n leerder “onredelik uitsluit” op gelyste gronde soos kultuur, taal of geloof nie.

Dit is onduidelik hoe die HOD die “behoeftes van die breër gemeenskap” van elke skool gaan toepas, veral waar die Skolewet en die Nasionale Toelatingsbeleid geen verwysing na die maatstaf maak nie. Dus bestaan daar geen uniforme duidelikheid vir ‘n beheerliggaam oor hoe die maatstaf toegepas gaan word nie. Die Nasionale Toelatingsbeleid, in ooreenstemming met die Grondwet, verbied bowendien  enige “onbillike diskriminasie” in ‘n skool se toelatingsbeleid. Die verwysing na “onredelik uitsluit” is nie gelykstaande aan “onbillike diskriminasie” nie. Laasgenoemde kan deur die howe aan die hand van wetgewing en die Grondwet getoets word en “onredelik uitsluit” nie. Hierdie maatstaf skep dus regsonduidelikheid en onsekerheid, terwyl die Grondwet vereis dat wetgewing duidelik geformuleer moet word om juis arbitrêre toepassing te vermy. Dit is ook opmerklik dat geen interaksie tussen die taalbeleid van ‘n skool en ‘n skool se toelatingsbeleid in ag geneem word nie.

Regsonsekerheid word ook geskep met die voorgestelde bepaling van die voedingsone en kapasiteitsbepaling van ‘n skool deur die HOD. In ‘n neutedop moet die HOD, by die vasstelling van ‘n skool se voedingsone, onder andere ‘n skool se kapasiteit, sowel as bevolkingsdigtheid en taalkeuses van ‘n skool in ag neem. Dit veronderstel dat daar logies geen dispuut is rakende ‘n skool se kapasiteitvasstelling nie. Om die minimum en maksimum kapasiteit van ‘n skool te bepaal moet elke skoolhoof voor 30 Junie van elke jaar, in terme van die wysiging, sekere inligting aan die HOD verskaf. Die inligting sluit onder andere die grootte van klaskamers, aantal opvoeders en die kurrikulum in. Volgens die wysiging is dit om te verseker dat die HOD voldoen aan artikel 58C(6) van die Skolewet. Hierdie artikel  veronderstel egter dat die Minister nasionale minimum norme en standaarde vir kapasiteit vasgestel het (in terme van artikel 5A(1)(b) van die Skolewet) wat die HOD moet gebruik. Sulke norme en standaarde in terme van artikel 5A(1)(b) bestaan nie. Die enigste riglyn in die bepaling van kapasiteit kan indirek gevind word in die Minister se Minimum Norme en Standaarde vir Basiese Infrastruktuur van Publieke Skole. Artikel 5A(1)(b) van die Skolewet maak egter spesifiek voorsiening dat die Minister se nasionale minimum kapasiteit norme en standaarde gelyste kriteria soos kurrikulum en kwaliteit van onderrig by ‘n skool in ag moet neem. Daar is dus geen duidelikheid oor die toepassing van die kriteria nie en geen voorsiening vir voorafgaande samewerking met beheerliggame nie - wat weereens kan lei tot arbitrêre toepassing van die regulasies.

Om vertroue in die samewerkingsmodel te herstel, is dit van uiterse belang dat elke rolspeler, as ‘n beginpunt, aan hul statutêre verpligtinge moet voldoen en aanspreeklik  gehou kan word. Die voorgestelde wysigingsbeleid skep regsonserkerheid en kan net lei tot verdere verbrokkeling van ‘n reeds kwesbare verhouding, ten koste van die toegang tot basiese onderwys. 

Deur Christine Botha: Regsbeampte, Sentrum vir Grondwetlike Regte
31 Augustus 2018

*Eers op www.maroelamedia.co.za gepubliseer

grond & eiendom

FW de Klerk Stigting

Die Sentrum vir Grondwetlike Regte (SGR) is ’n eenheid van die FW de Klerk Stigting.

FW de Klerk Stigting

Top Bedreigings teen die Grondwet

Menseregteverslagkaart

Maak 'n skenking

Help ons om die Grondwet te handhaaf en te bevorder.

cfcr-donate

Kliek Hier