water resources

Kaapstad staar ‘n ernstige waterkrisis in die gesig. Ten tyde van die skrywe van hierdie artikel, het damvlakke op 28% gestaan, in vergelyking met 68% dieselfde tyd verlede jaar, en die Stad gebruik ongeveer 600 miljoen liter water per dag. Gauteng het ‘n soortgelyke krisis ervaar totdat swaar reëns die Vaaldam in Februarie gevul het.

Droogte is nie die enigste rede vir watertekorte nie. Soos 'n verslag van die Departement van Water en Sanitasie in 2016 opgemerk het, verloor “Suid-Afrika water deur lekkasies as gevolg van die volgehoue gebruik van die verouderde en vervalle infrastruktuur”. Mediaberigte het in Maart gewys op hoë vlakke van watervermorsing weens gebreekte pype. Sommige het die vinger gewys na die Stad Kaapstad, wat ‘n beleid gevolg het om watervermorsers se identiteit bekend te maak. Die burgerlike samelewing het egter uit sommige oorde die Stad daarvan beskuldig dat hy toegelaat het dat waternetwerke verswak tot op die punt waar 30% tot 60% van drinkbare water verlore gaan deur lekkasies.

 

Munisipale en nasionale regerings blyk om meer behep te wees daarmee om die blaam om iemand te plaas, eerder as om oplossings te vind. In Junie het die Wes-Kaapse regering verklaar dat hulle slegs 2.5% van die Departement van Water en Sanitasie se begroting van R16 miljard ontvang het. Op 1 Augustus het die Wes-Kaapse regering planne aangekondig om ‘n rekening van R3.5 miljoen aan die Departement van Water en Sanitasie te stuur vir onderhoud van waterinfrastruktuur. In beide gevalle het die nasionale regering Wes-Kaapse amptenare daarvan beskuldig dat hulle politieke punte wou wen.

Gebrek aan behoorlike water- en sanitasiedienste skend Suid-Afrikaners se reg op voldoende water kragtens artikel 27(1.1). ‘n Verslag van die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie in 2014 het bevind dat 9% van munisipaliteite ‘n krisis bereik het wat waterdienste betref, met ‘n akute risiko van die uitbreking van siektes, met ‘n verdere 38% met ‘n hoë risiko. Dieselfde verslag het ook bevind dat arm, landelike gemeenskappe van KwaZulu-Natal, Noordwes en die Oos-Kaap veral kwesbaar is, en het ook daarop gewys dat “daardie gebiede wat ‘n tekort aan water en sanitasie het, die ruimtelike geografie van apartheid weerspieël.”

Nie net is daar nie genoeg of billike verspreiding van beskikbare water nie, maar die waterkrisis word vererger deur riool. Die Green Drop-verslag vir 2013 het een derde van die rioolbehandelingsaanlegte as in ‘n kritiese toestand klassifiseer, en 'n verdere 20% in swak toestand. Slegs 134 van die 824 aanlegte was in uitstekende of goeie toestand. 'n Verslag van die Mail & Guardian van 2017 het geskat dat die aantal rioolaanlegte in uitstekende of goeie toestand so laag as 60 kan wees. Die verslag beraam dat 50 000 liter riool elke sekonde deur middel van gebreekte pype en behandelingsaanlegte na die riviere in Suid-Afrika vloei. Soms word slegs 1%, eerder as die aanbevole 15%, van aanlegwaarde jaarliks aan onderhoud bestee. Ander kere word honderde miljoene rande bestee en niks word herstel nie.

Suid-Afrika se rioolprobleem skend duidelik Suid-Afrikaners se reg kragtens artikel 24 op ‘n omgewing wat nie skadelik vir hul gesondheid of welsyn is nie, op die beskerming van die omgewing en voorkoming van besoedeling en ekologiese agteruitgang. Rioolbehandelingsaanlegte in swak of kritieke toestand skend ook artikel 19 van die Nasionale Waterwet, wat verklaar dat enige iemand wat grond besit, beheer, bewoon of gebruik wat besoedeling van ‘n waterbron kan veroorsaak, moet “alle redelike maatreëls” instel om die besoedeling te voorkom. Voorts hou artikel 28 van die Wysigingswet op Nasionale Omgewingsbestuur (WNOB) elke persoon wat besoedeling of die agteruitgang van die omgewing kan veroorsaak, aanspreeklik vir die minimalisering van die besoedeling.

Bestaande omgewingswetgewing is ondoeltreffend om besoedeling te voorkom. Die breë omvang van die WNOB verskaf voldoende regsverdiging vir staatsdepartemente om nakomingskennisgewings uit te reik, maar nakomingskennisgewings is slegs kriminele oortredings wanneer die Ministers of LUR’e van die departemente wat dit uitreik, die aangeleentheid by die Direkteur van Openbare Vervolging aanmeld. Selfs wanneer optrede as ‘n kriminele oortreding geag word, soos optrede wat versuim om artikel 19 van die Nasionale Waterwet na te kom, is die strafmaatreëls vir besoedeling gewoonlik nie so swaar dat dit as afskrikmiddel dien nie. Dit kan ook wees weens ‘n gebrek aan kragtige liggame om dit toe te pas. Die Nasionale Waterwet gee Omgewingsbestuursagentskappe die mag om stappe te doen om gevalle van besoedeling reg te stel, maar slegs twee - die Inkomati-Usuthu in Mpumalanga en die Breede-Gouritz in die Wes-Kaap - van nege voorgestelde Omgewingsbestuursagentskappe is tans in bedryf, en die Nasionale Tesourie het nie vir enige ander tot die boekjaar 2019/2020 begroot nie.

Totdat sanksies vir die versuim om vervalle infrastruktuurstelsels te onderhou, duurder is as om dit te ignoreer, kan Suid-Afrika verwag dat hierdie misbruik sal voortduur. As nasionale en munisipale regerings nie geld daar sal stel om infrastruktuur te onderhou nie, sal die agteruitgang van die omgewing vererger, en Suid-Afrika sal altyd die risiko loop om nie genoeg skoon water te hê nie. Soos enige inwoner van Kaapstad jou sal vertel, is dit nie genoeg om net vir reën te bid nie.

Deur Antonia Drummond: Intern, Sentrum vir Grondwetlike Regte

grond & eiendom

FW de Klerk Stigting

Die Sentrum vir Grondwetlike Regte (SGR) is ’n eenheid van die FW de Klerk Stigting.

FW de Klerk Stigting

Top Bedreigings teen die Grondwet

Menseregteverslagkaart

Maak 'n skenking

Help ons om die Grondwet te handhaaf en te bevorder.

cfcr-donate

Kliek Hier