Hoe het die Grondwet ontstaan?

Gedurende die laat 1980s het die Nasionale Party-regering voorlopige gesprekke met mnr Nelson Mandela gevoer en gevolglik met die ANC self. Op 2 Februarie 1990 het President FW de Klerk die aankondiging in die Parlement gemaak wat die weg gebaan het na die onderhandelings oor die grondwetlike toekoms van Suid-Afrika. Hy het ook die vrylating van mnr Mandela aangekondig en het alle politieke organisasies ontban.  

FW de Klerk and Nelson Mandela first meeting 1990

Formele onderhandelings het begin by die veelparty Konvensie vir ’n Demokratiese Suid-Afrika. Hierdie gesprekke, meer bekend as KODESA, het op 21 Desember 1991 ’n aanvang geneem. KODESA het egter op 17 Junie 1992 ineengestort omdat partye nie kon ooreenkom op die persentasie stemme wat in die Wetgewer nodig sou wees voordat die finale Grondwet aanvaar sou word nie.

Die partye wat aan die onderhandelings deelgeneem het het verskillende menings gehad oor hoe en wanneer die nuwe Grondwet aanvaar sou word.  

Die ANC het daarop aangedring dat die finale Grondwet, ten einde dit meer verteenwoordigend te maak vir alle Suid-Afrikaners, slegs geskryf en aanvaar kon word deur ’n behoorlik verkose liggaam bekend as die Grondwetlike Vergadering. Die Nasionale Party, die IVP en ander kleiner partye het daarop aangedring dat die eerste verkiesings slegs gehou moet word nadat ’n ooreenkoms bereik is oor die Grondwet. Hierdie probleem is opgelos op die volgende briljante manier: die partye wat aan die onderhandelings deelgeneem het sou ooreenkom op ’n tussentydse Grondwet (die Tussentydse Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, Wet 103 van 1993, wat sedertdien herroep is), en sodoende kon die eerste demokratiese verkiesing van 27 April 1994 plaasvind. Daarna sou die nuut verkose Parlement as ’n Grondwetlike Vergadering saamkom, met die taak om die finale Grondwet te skryf en aanvaar. Die finale Grondwet sou egter moes voldoen aan 34 grondwetlike beginsels waarop ooreengekom is deur die partye wat aan die onderhandelings deelgeneem het en wat in die tussentydse grondwet verskans is. Die tussentydse grondwet het ook die oorgangsmaatstawwe uiteengesit wat daargestel is voordat die finale Grondwet van krag sou word, asook die vereistes wat sou verseker dat die eerste nasionale demokratiese verkiesings op 27 April 1994 vry en regverdig sou wees.

Die nuut verkose Parlement, as die Grondwetlike Vergadering, het toe die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996, opgestel. Dit was die gevolg van lang en moeilike onderhandelings waarby alle Suid-Afrikaners betrokke was. Almal is die geleentheid gegee om hul sê te sê by wyse van openbare deelname wat deur die Grondwetlike Vergadering daargestel is. Op 4 Februarie 1997 is die finale Grondwet, die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996, aanvaar en het dit in werking getree. Voordat dit kon gebeur moes een belangrike stap gedoen word. ’n Sertfiseringsproses van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996.

FWDK Mandela hands

Op 10 Mei 1996, nadat daar op die teks ooreengekom is, het die Grondwetlike Vergadering die eerste konsepweergawe van die finale Grondwet aan die Konstitusionele Hof van Suid-Afrika voorgelê vir “sertifisering". Hierdie sertifiseringsproses was om twee redes belangrik vir ons nuwe demokrasie. Eerstens was dit die eerste saak wat die nuut gestigte Konstitusionele Hof aangehoor het as ’n hof. Tweedens, in ’n stap wat daarop gewys het dat die Konstitusionele Hof werklik onafhanklik was van die uitvoerende gesag en die Wetgewer, het die Hof geweier om die eerste konsepweergawe van die finale Grondwet te sertifiseer. (NB. Daar was baie brawe regters in die ou bedeling wat onafhanklike denke gekoester het. Die probleem was dat onder vorige grondwette, die Parlement, en nie die howe nie, oppermagtig was.) Die Konstitusionele Hof het geweier om die konsepweergawe van die finale Grondwet te sertifiseer omdat die konsepweergawe, na die Hof se mening, nie ten volle aan sommige van die 34 grondwetlike beginsels voldoen het wat in die tussentydse grondwet verskans is nie. Die Grondwetlike Vergadering het die besluit aanvaar en weer aan die finale teks gaan werk totdat daar ten volle aan al 34 grondwetlike beginsels voldoen is. Hierdie nuwe teks is toe in Oktober 1996 weer aan die Konstitusionele Hof voorgelê vir sertifisering. Na ’n deeglike oorsig van elke afdeling het die Hof die teks gesertifiseer en die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996, het op 4 Februarie 1997 in werking getree.

 

grond & eiendom

FW de Klerk Stigting

Die Sentrum vir Grondwetlike Regte (SGR) is ’n eenheid van die FW de Klerk Stigting.

FW de Klerk Stigting

Top Bedreigings teen die Grondwet

Menseregteverslagkaart

Maak 'n skenking

Help ons om die Grondwet te handhaaf en te bevorder.

cfcr-donate

Kliek Hier